Boodskap vir die dag - 14 Oktober 2022: Wie vrees jy?

0 views
Skip to first unread message

Lukas du Preez

unread,
Oct 13, 2022, 1:29:44 PM10/13/22
to die...@googlegroups.com, die...@googlegroups.com, die...@groups.io, nuus...@googlegroups.com

 

DIE WEG NUUSBRIEF

14 Oktober 2022

_________________________

Besoek ook www.dieweg.co.za

************************

GEDAGTE VIR DIE DAG

Hou julle lewe vry van geldgierigheid;
wees tevrede met wat julle het.
God self het gesê:
“Ek sal jou nooit verlaat nie,
jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper,
ek ken geen vrees nie:
wat kan 'n mens aan my doen?”
- Hebreërs 13:5-6 -
 

************************

BOODSKAP VIR DIE DAG

Wie vrees jy?

En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het.” - 1 Samuel 18:12 (53-vertaling).

In die vorige boodskap het ons gesien hoe Saul nie na die woord van God geluister het nie, sodat hy gedoen het wat reg was in sy eie oë. Die Gees van God het van Saul gewyk en nou ervaar hy angs. Die koning vind geen rus meer vir sy siel nie. Hierdie man, eens 'n dapper held wat met 'n klein klompie ongeoefende manskappe die leërs van die Ammoniete en Filistyne verslaan het, leef nou met vrees in sy hart.

Vrees is 'n slegte raadgewer. Deur sy vrees en jaloesie het Saul dié mense wat na-aan hom was van hom vervreem. Hy wil vir Dawid doodmaak. Juis dié een wat vir Saul die grootste dienste op die slagvelde bewys het, en hom troos en opbeur wanneer hy terneergedruk is. Angs kan 'n mens se uitsig op die lewe vertroebel en jou op 'n pad van rampspoed plaas. Ons sien hoe Saul deur sy angs tot doodslag (1 Sam 19) en bygeloof (1 Sam 28) gebring word, en uiteindelik sy eie lewe neem (1 Sam 31:3-4).

Saul is 'n voorbeeld van die vernietigende krag van angs. En dit het gekom omdat hy sy eie kop wou volg en nie erns gemaak met die woord van die Here nie.

Dit lyk soms vir 'n mens of gehoorsaamheid aan God jou hinder in die manier waarop jy jou lewenstryd wil voer en jou probleme wil benader. Daar is baie mense wat dink dat hulle sterk is en hulle hul nie hoef te steur aan God en sy gebod nie. Maar in werklikheid is dit net die omgekeerde, want die mens wat God vrees hoef vir geen enkele ding en vir geen mens bang te wees nie. Maar wanneer jy God verlaat en jou houvas op jou geloof in Christus Jesus verloor, word jy bang vir die dinge wat in die wêreld gebeur.

Die vrees en eerbied vir God is 'n manmoedige gehoorsaamheid wat jou karakter versterk en aan jou moed gee. Dit is nie sonder rede nie dat die boek Jesaja telkens herhaal: “Geen vrede vir die goddelose nie!” (Jes 48:22; Jes 57:21; 53-vertaling).

Met erkenning aan dr A van Selms in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans.
 

_________________________

 

--

Kopiereg© Materiaal van Die Weg mag gebruik word op die volgende voorwaarde:
Dat daar 'n duidelike verwysing na die outeur sowel as die webwerf www.dieweg.co.za by sodanige materiaal geplaas word.

Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages