DIE WEG NUUSBRIEF
16 November 2022
_________________________
Besoek ook www.dieweg.co.za
************************
GEDAGTE VIR DIE DAG
Maar ék sal sing van u mag,
elke môre sal ek jubel oor u trou,
want U is vir my 'n veilige vesting,
'n skuilplek in tyd van nood.
- Psalm 59:17 (83 vertaling) -
************************
BOODSKAP VIR DIE DAG
Lofsang, ook in moeilike tye
“Sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here.” - Efesiërs 5:19 (53-vertaling).
Begeesterd sing die ondersteuners van 'n voetbalklub om hul span aan te moedig. Tydens die eerste Corona-inperking, twee jaar gelede, het bure van hul balkonne af saamgesing.
Mense sing al vir eeue tot eer van God. Moses en Mirjam het die eerste lied gesing wat in die Bybel opgeteken is (Eks 15). Hulle het dit met groot dankbaarheid en vreugde gesing omdat God sy volk uit die slawerny in Egipte bevry het. Dit is die oorwinningslied van die verlostes!
Vandag weerklink hierdie lied nog regoor die wêreld. Hulle wat Christus loof, sing dat Hy ons van skuld en sonde bevry het. Jesus het ons vrygemaak om kinders van God te kan wees (Gal 3:26; 1 Joh 3:1). Dit laat ons sing en jubel. Hierdie lied sterf nie weg nie – ook nie wanneer die nood ons kele wil toedruk nie. Juis dan klink die lied van die geloof op.
Soos die voëls sing wanneer die nag nog donker is, so sing ons vol hoop op die hemelse heerlikheid, en wat sy klimaks sal vind in die nuwe lied wat voor die troon van die Almagtige God sal opklink (Openb 14:3).
Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied;
sing voor die HERE, o ganse aarde!
Sing tot eer van die HERE,
loof sy Naam,
verkondig sy heil van dag tot dag.
(Ps 96:1-2; 53-vertaling)
Andrea Eißler in Neukirchener Kalender 2022 (aangepas)
_________________________
--
Kopiereg© Materiaal van Die Weg mag gebruik
word op die volgende voorwaarde:
Dat daar 'n duidelike verwysing na die outeur sowel as die
webwerf www.dieweg.co.za by sodanige materiaal geplaas word.