Arbeidvrae | Verruil haar werk?

4 views
Skip to first unread message

ekerk online

unread,
Dec 18, 2007, 6:34:51 AM12/18/07
to Argiewe


DINK SY VERRUIL HAAR WERK VIR BETER WERK TOE SIT SY MET NIKS

 

Werkloos en moedeloos skryf

Ek het vir 23 jaar by 'n prokureurspraktyk gewerk en besluit om die firma te verlaat aangesien ek die laaste 7 jaar geen verhoging gekry het nie en omdat die kommissie-perk so verhoog is dat my kommissie met duisende Rande verminder is.

 

Ek was een maand by die nuwe firma toe ek genader is deur 'n ander firma om hulle nuwe tak op 'n naburige plattelandse dorp te beman. Ek het die pos aanvaar op 1 Junie 2007 met 'n skriftelike dienskontrak – alhoewel ek die dienskontrak nooit geteken het nie.  Gedurende die tweede week in Augustus is ek egter meegedeel dat die firma besluit het om die spesifieke tak toe te maak as gevolg van finansiële redes en dat ek ander werk moet soek. Nodeloos om te sê ek was bitterd teleurgesteld want ek het gevoel dat ek 'n goeie werk net so gelos het om hulle te akkommodeer.

 

Op 1 Oktober het ek 'n skriftelike kennisgewing gekry dat die kantoor op 31 Oktober 2007 sal toemaak. Geen skeidingsgelde is aan my betaal nie.  Alle pogings van my om 'n nuwe pos te bekom was tot dusver onsuksesvol.

 

Wat is my regte?

 

Antwoord:

Ek voel jammer vir jou dat die skuif na beter werk nie vir jou uitgewerk het nie. Jy het egter na deeglike oorweging die pos verlaat wat jy vir 23 jaar gehad het. Jy het goeie rede gehad om van werk te verander en jy het toe gou weer 'n ander werk gekry. Wat daarna met jou gebeur het, kon jy nie voorspel het nie en het jy ook niks verkeerd gedoen nie.

 

Wat jou regte betref, die volgende. Al het jy die dienskontrak nie geteken nie, is die ongetekende geskrewe kontrak net so bindend as wanneer dit geteken sou wees want jy het vir vyf maande daarvolgens gewerk en dit in beginsel aanvaar. Al hoef die werkgewer jou volgens wet net een week kennis van beëindiging van diens te gegee het, het jy bykans twee maande se kennis ontvang. Die werkgewer word verplig om in so 'n geval van ontslag weens bedryfsvereistes skeidingsgelde te betaal gelykstaande aan een week se vergoeding vir elke jaar aaneenlopende diens van die spesifieke werkgewer.

 

Jy het egter slegs vyf maande by die firma gewerk en kwalifiseer nie vir skeidingsgelde nie. Indien die werkgewer egter nie met die betrokke werknemers  by die tak behoorlik oorleg gepleeg het oor moontlike uitstel of vermyding van die sluiting van die tak en moontlike aanbieding van alternatiewe poste elders in die maatskappy nie, kan die geskil na die KVBA verwys word in terme van onbillike ontslag. Behalwe dat die firma 3.5 dae se verlof wat jy in die vyf maande verdien het nog moet uitbetaal, lyk dit vir my egter of die onderneming al sy arbeidsregtelike verpligtinge teenoor jou nagekom het.

 

Ek verstaan dat jy ongelukkig voel oor die hele situasie maar jy moet nie moed verloor nie. Jy is 'n baie bekwame werker met baie goeie ervaring en jy moet net vertrou dat jy gou weer 'n geskikte werk sal kry. Vra God om jou rustigheid van gemoed te gee met die wete dat Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op (Psalm 37:23,24).


Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages