Dankbare werkgewer skryf,
My huishulp van amper 23 jaar het nou besluit om nie verder vir ons te werk nie. Sy sukkel geweldig met haar arms en voel sy kan nie meer al die werk hanteer nie.
Sy het ons op 30 Oktober 2007 meegedeel dat sy haar diens by ons einde Desember
2007 wil beëindig. My vraag is, hoe maak ons nou?
Antwoord:
Indien sy bedank, hoef julle nie 'n skeidingsloon te betaal nie, maar omdat sy reeds so lank by julle gewerk het, sal 'n erkenning vir lang diens in die vorm van 'n bonus in orde wees, maar ek sien dat julle reeds vir haar ses jaar gelede 'n annuïteit uitgeneem het.
Volgens wet moet 'n skeidingsfooi van een week vir elke voltooide jaar diens betaal word indien julle haar sou ontslaan vir operasionele redes ("retrenchment"). Met 'n maandelikse salaris van R1400 is haar week se salaris (deel deur
4.333) ongeveer R323 p.w. Skeidingsgelde vir 23 jaar se diens : 23 x R323 beloop R7249. Julle sal maar self moet besluit hoeveel julle aan haar wil betaal.
As sy bedank, verbeur sy haar werkloosheidsvoordele, maar nie as sy aftree op die ooreengekome ouderdom nie. Ek stel voor dat julle in haar diensbeëindigingsbrief meld dat sy nou vrywillig gaan aftree op 62 omdat sy reeds ouer as 60 is wat moontlik die ooreengekome aftree-ouderdom is. Help haar om aansoek te doen vir haar werkloosheidsvoordele en om aansoek te doen vir ouderdomspensioen. Meld duidelik in die brief wat die voorwaardes van diensbeëindiging is en laat haar dit teken.