Jongspan | Simon die arm seun

11 views
Skip to first unread message

ekerk online

unread,
Dec 12, 2007, 5:12:03 AM12/12/07
to ekerka...@googlegroups.com

 

SIMON DIE ARM SEUN

Hoezit al my pêlle! Ek wil julle vertel van 'n lekker rolprent wat ek die naweek gekyk het. Die naam was "Home on the Range". Dit gaan oor 'n arm ou tannetjie op 'n plaas wat nie meer geld het nie. Sy sou alles verloor het as dit nie was vir haar drie koeie wat toe gaan hulp soek het nie. God het vir hulle gesorg en op die einde het die tannie toe nie die plaas verloor nie en die skelm is gevang en alles is sommer net reg. Maar toe sien ek in die Bybel is daar net so 'n storie van 'n arm weduwee wat toe vir God se profeet gevra het om haar te help.

Die storie gaan oor 'n seun, Simon, wat gebly het saam met sy boetie en sy ma. Sy ma was 'n weduwee. Dit beteken haar man was al dood. Hy was 'n profeet maar het nie juis baie geld gehad nie en na sy dood het die gesin nou nie eintlik geld gehad om van te leef nie. Een oggend toe Simon en sy boetie wakker word, sê sy ma vir hulle: "My kinders, ons het moeilikheid. Vanoggend eet ons die laaste stukkies brood in die huis. Dan is al ons kos klaar. Ons het ook nie meer geld oor vir kos nie. Simon, jy is die grootste in ons huis. Jy moet nou die man wees, bid jy vir God en vra vir Hom ons vir ons te help."

Simon het gedoen soos sy ma gevra het, want hy was darem al 10 en kon al goed bid: "Liewe God," het hy begin: "Baie dankie vir ons broodjies wat ons kan eet vanoggend. Maar ons het nie meer kos nie. Sal u asseblief  vir ons iemand stuur om ons te help om weer kos en geldjies te kan kry. Baie dankie, ons groot God." En toe eet die drie van hulle hulle broodjies. Hulle magies het daarna nog gegrom van die honger, maar hulle het darem iets gehad om te eet.

Daar kom toe iemand aan, so 'n maer kwaai mannetjie. Almal in die dorp was bang vir hom, want hy het geld uitgeleen vir arm mense en as hulle nie betaal nie, is daar moeiliheid. Hy sê toe sommer dadelik sonder om te groet: "Mevrou, jy skuld my sommer 'n klomp geld. Ek wil dit teen more hê anders vat ek jou twee fris seuns om as slawe te verkoop. Dan gaan hulle vir die res van hulle lewens vreeslik hard moet werk vir een of ander boer. Maar Ek is nou moeg gewag vir my geld."

"Maar ons het nie geld nie, oom!" het Simon kwaai terug geantwoord.

Die maer man het net gelag. "Dis nie my probleem nie. More kom haal ek my geld of vir julle!Totsiens!"

Simon en sy boetie en sy ma het mekaar vasgehou en begin huil. Maar hulle het geweet God sal tog help. Dit was ook nie veel later die oggend nie, toe kom daar 'n baie belangrike profeet van God by die gesin aan om te kuier. Sy naam was Elisa. Hy was goeie vriende van die gesin. Julle onthou mos nog dat Elisa die profeet is wat by die ander groot profeet Elia alles geleer het. Hy het Elia opgevolg.

"Goeiemore, almal" het Elisa gegroet, maar kon sien iets is verkeerd. "Hoekom hang julle gesigte so? Vertel my wat is fout?"

"Ag, Elisa, my man het vir jou gewerk en hy is mos dood. Jy weet self dat hy hard gewerk het vir God.  Maar nou was hier iemand vir wie ons geld skuld en hy wil my twee seuns as slawe vat om te betaal vir sy skuld.Ons het geen hoop nie. Ons het vir God gevra om ons vandag te kom help!" het die mamma gesê. 

"Dis nou juis hoekom ek hier is. Wat kan ek vir julle doen? Wat is hier in jou huis?" vra Elisa vinnig.

"Ek het net mooi niks oor in die huis nie," antwoord die mamma. "Net 'n flessie olyfolie."

Elisa sê toe: "Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy in jou huisie kan kry."
Hulle het nie mooi verstaan nie, maar omdat hulle weet Elisa is 'n slim man wat vir God ken, het hulle vinnig by al die bure gaan kanne en flesse leen. Simon het gehardloop soos die wind. Hy het sommer groot flesse aangedra na hulle armoedige huisie. Sy boetie het met sy klein houtsleepwaentjie ook flesse aangery. Naderhand het die huis tjok en blok vol kanne en flesse gestaan. Die bure het gewonder wat aangaan.  Toe sê Elisa: "Maak julle deur nou toe en maak al die flesse vol olie."

Hulle doen toe presies soos Elisa sê: "Ek sal ingooi, en julle gee die kanne aan, Simon. Sit dan die volles in daardie hoek daar agter neer." Toe vat sy haar klein flessie olyfolie en begin die ander volmaak. En Simon kan sy oë nie glo nie. Die olyfolie hou net nie op nie. Dit hou aan uitloop en die flesse word een vir een vol.

"Is daar nog flesse?" vra die mamma.

"Nee, dis alles!" sê Simon. En toe hou die olie in die klein flessie op met loop. Die hele gesin was verwonderd. Die mamma storm uit die huis en roep vir Elisa waar hy daarbuite onder 'n boom sit en wag. "Kan jy glo?," roep sy: "Al die kanne is vol olie! Prys die naam van die Here" Elisa het net geglimlag want hy het geweet wat gebeur het. "Gaan verkoop nou die olie. Betaal jou skuld af en gebruik die geld wat oor is om vir jou en jou seuns te sorg."

Die res van daardie dag het Simon sy ma gehelp om olie te verkoop. Omdat olie so 'n duur skaars ding was, het al die mense van die dorp sommer gestorm om olie te koop. Simon kon nie glo hoeveel geld hulle daardie dag gemaak het nie. Dit was sommer sakke vol geld. En toe die ou maer mannetjie die volgende dag daar aankom, het hulle hom betaal en die deur in sy gesig toe gemaak. En die weduwee kon rustig haar kinders grootmaak sonder om weer te sukkel. Simon het elke aand in sy gebedjie vir God dankie gesê dat Hy hulle so gehelp het.

Die storie staan in
2 Konings 4.

Ons lessie vir vandag is: "
Al is jou probleme hoe groot, vra net vir God en Hy sal jou help. Jy sal verbaas wees as jy sien hoe baie goed God kan doen. Vertrou net op Hom!  Groetnis, die Kater.
 


Simon-1-150.gif
Simon-1-inkleur-80.gif
Simon-2-150.gif
Simon-2-inkleur-80.gif
Simon 2 inkleur A4.pdf
Simon 1 inkleur A4.pdf
Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages