Wereldgebeure | Uitgelewer aan ‘n onbetroubare rigtingwyser [1]

10 views
Skip to first unread message

ekerk online

unread,
Dec 19, 2007, 8:16:19 AM12/19/07
to Argiewe

Uitgelewer aan 'n onbetroubare rigtingwyser – Phillip Pullman se ' Golden Compass'

 

As jy teen hierdie tyd nog nie teen " The Golden Compass" gewaarsku is nie het jy tien teen een nie e-pos of 'n selfoon nie!  Verskeie e-posse doen die rondte wat Christene waarsku teen Hollywood se groot vakansiefliek en teen die feit dat die  storielyn daarmee te doen het dat die hoofkarakters vir God doodmaak sodat 'hulle kan doen wat hulle wil'.  Ek wil met 'n paar artikels jou so bietjie probeer help om te verstaan wat in " His dark materials" (die naam van die trilogie waarvan The Golden Compass die eerste is) aan die gang is en hoekom dit belangrik is dat ons as Christene daarvan kennis neem.  Dit sal, ter inleiding, dalk goed wees om net eers stil te staan by die oproep om die fliek te boikot.

Daar is geen twyfel dat " His dark materials" materiaal bevat wat enige Christen ernstig bekommerd behoort te laat nie.  Die manier waarop ons egter opgeroep word om die fliek te boikot het my egter met 'n paar vraagtekens gelaat.  Laat ek verduidelik hoekom:

·        In die eerste plek het dit, toe ek die eerste epos lees, so half vir my gevoel  asof ons as Christene net kennis neem van iets as dit vanuit Hollywood kom.  Die feit is dat "His dark materials" al meer as tien jaar met ons is ( Northern Lights waarop The Golden Compass gebaseer is het reeds in 1995 verskyn) en dat dit alreeds letterlik miljoene der miljoene jongmense se denke oor God en godsdiens be ""h"Hhhhijkjfkldsjfkldjflkïnvloed het.  Ek kan nie help as om te wonder hoekom ons nou eers opgeroep word om daaraan aandag te gee nie.  Ek dink ons sal almal, myself ingesluit, sal goed doen om so bietjie wyer te kyk as dit waarmee Hollywood besig is.  "His dark materials" moes al lankal op ons agenda gewees het, die feit dat ons egter baie keer slegs gefokus is op die groot en klein skerm het egter ongelukkig verseker dat dit nie was nie.

·        In die tweede plek is dit vir my duidelik (en baie ander mense het dieselfde opmerking gemaak) dat die persone wat so vurig pleit vir 'n boikot van die fliek nie die moeite gedoen het om die boeke (waaruit jy natuurlik 'n uitstekende idee kan kry van wat die fliek gaan uitbeeld) te lees nie.  Die waarskuwings bevat dus 'n hele paar feitelike foute.  Hiervan is die belangrikste die bewering wat gemaak word dat die kinders in die boek vir God doodmaak.  Een van die sentrale elemente van die wêreldbeeld wat in Pullman se boeke uitgeborduur word is egter dat daar nie 'n God is nie.  Daar is slegs engele waarvan een voorgee dat hy God is.  Dit is dus binne die konteks van die boeke onmoontlik om God dood te maak, aangesien dit baie duidelik gestel word dat God nie bestaan nie!  Will en Lyra (die hoofkarakters) is wel teenwoordig wanneer die engel wat voorgee dat hy God is sterf (hulle maak hom egter nie dood nie).  Dit mag dalk vir jou klink asof ek hare kloof, die feit is egter dat dit 'n wanvoorstelling is om te beweer dat die kinders in die boek vir God doodmaak.  Hierdie feit sal onmiddellik duidelik wees vir enige persoon wat die boek gelees het.  Dit laat die skrywers van die waarskuwings (hoe welmenend hulle ook al mag wees) oop vir die beskuldiging dat hulle bloot besig is om 'n karikatuur te skep van dit waarvan hulle nie hou nie.  Verstaan my mooi, ek probeer nie hiermee vir Pullman of "His dark materials" verdedig nie. Ek is egter oortuig dat die oproep om "die waarheid in liefde te praat " (Efesiers 4:15) ook insluit dat ons dié wat nie met ons saamstem nie se standpunte korrek weergee.

·        Ek is derdens, en laastens, oortuig dat die oproep om die fliek te boikot eenvoudig teenproduktief is.  As koshuiskinders het ons die graagste vrugte gesteel uit die tuine met die hoogste mure!  Op dieselfde manier sal 'n oproep tot 'n boikot vir die teikenmark van hierdie fliek (lees tieners) die sein stuur dat dit so min of meer semi-verpligtend is om te gaan kyk.  Die feit dat hulle dit dus 'onwettig' gaan kyk beteken verder dat hulle baie minder waarskynlik sal wees om dit wat hulle gesien het met hulle ouers of geestelike leiers te bespreek.  Ek wil dit onomwonde stel – daar is niks in " His dark materials" waarvoor ons hoef weg te deins omdat ons nie antwoorde daarop kan gee nie.  Dit is daarom veel beter om ons gesprek daarmee in die oopte te kry as om dit te laat lyk asof dit 'n 'verbode vrug' is wat ons in die diepte van ons wese laat bewe.   Om egter tot hierdie gesprek te kan toetree gaan mense van ons verwag om te weet waarvan ons praat.  'n Beter oplossing as jy tieners in die huis het sou dus sekerlik wees om die boeke saam met hulle te lees of die fliek saam met hulle te gaan kyk sodat julle daaroor kan praat.

Ek besef dat daar seker baie diep en opregte gelowiges sal wees wat nie met my standpunte hierbo sal saamstem nie.  Ek weet verder dat baie mense hierdie e-posse en sms'e vanuit 'n diepe kommer oor mense wat dalk deur die fliek geraak sal word  aangestuur het.  Ek wil dus nie onnodig krities wees, of veroordelend oorkom nie.  Vergewe dus as jy dit so beleef het.  Hoe dit ook al sy, of jy gaan boikot of nie, die feit bly staan dat ons deeglik sal moet kennis neem van " His dark materials" en gereed sal moet wees met antwoorde vir die vrae wat daaruit na vore kom.  Ons gaan per slot van rekening nog vir drie Desembers direk daarmee gekonfronteer word! Om jou te help om so bietjie hieroor na te dink gaan ek oor die volgende paar weke drie artikels hieroor op ekerk plaas. Met die eerste artikel gaan ek probeer om die wêreldbeeld waarmee enige leser van "His dark materials" gekonfronteer gaan word, te analiseer.  Volgende week gaan ons so bietjie kyk na Philip Pullman self en gaan ek ook so 'n paar antwoorde probeer bied op van die kwessies wat hy opper.  Ek gaan dan laastens met 'n derde artikel 'n paar kontrasterende lyne probeer trek tussen " His dark materials" en CS Lewis se "The chronicles of Narnia " (Die rede hiervoor is dat Pullman sy boeke as 'n anti-Narnia aanbied).

Voordat jy verder lees wil ek dit net laastens duidelik maak dat alles wat ek skryf gebaseer is op die boeke en nie op die fliek nie.  Daar is 'n baie eenvoudige rede hiervoor:  Die fliek verskyn eers na Kersfees hier in Australië en ek het dit dus nog nie gesien nie!  Verder word die laaste twee aflewerings natuurlik nog verfilm en verskyn dit eers in 2008 en 2009 onderskeidelik.  Uit die resensies wat ek gelees het lei ek af dat die anti-godsdienstige temas in die boek baie afgewater word in die fliek.  (Iets waaroor 'n hele paar ateïste duidelik baie ongelukkig is!)  Almal wat die boeke gelees het sal egter weet dat dit basies onmoontlik sal wees om dit in die volgende twee flieks te doen aangesien dit so 'n integrale deel van die storielyn van " The subtle knife" en veral " The amber spyglass" is.

Kliek op die skakels hieronder vir die drie artikels in die reeks:

1) 'n Skietlig op "His dark materials" – 'n Opsomming van die reeks en 'n bespreking van die wêreldbeeld wat ons daarin vind.

2) Om weg te stap uit die donker – 'n Bespreking van die punte wat in " His dark materials" geopper word.

3) Die wêreld agter die venster teenoor die wêreld in die hangkas – 'n Vergelyking tussen die wêreldbeelde van CS Lewis se Chronicles of Narnia en His dark materials.

 

 


20071216 GCompass-Inl-120.jpg
Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages