God oorlaai ons met meer as geskenke
Wat is die grootste geskenk wat jy nog ooit ontvang het? Moenie nou dink aan Jesus (Joh. 3:16), die Heilige Gees (Joh. 14:16-17; 1 Kor. 2:12), lewe én nuwe lewe (1 Tim. 6:13; 1 Pet. 1:3), genade (1 Kor. 1:4; Ef. 1:6-8) en gawes (1 Kor. 12:4-11) nie. Moet ook nie aan jou lewensmaat, kinders of die ouerhuis waaruit jy kom dink nie. Dink aan gewone geskenke ... Is dit dalk jou eerste horlosie, seëlring of knipmes? Of dalk 'n boek of skildery? Soms ontvang 'n mens iets wat jy nou maar net meer as ander dinge waardeer. Of iets wat jou lewe ingrypend geraak het.
Een van die grootste geskenke wat ek nóg ontvang het, was om saam met vyf-en-twintig ander predikante vir 'n maandlank deur die VSA te reis. Ons het gemeentes, kerklike organisasies, teologiese opleidingsentra en baie ander plekke besoek. Goed, die doel was om tydens dié studietoer te werk en te leer, maar wat ons ontvang het, het ons almal op alle lewensterreine onverwoordbaar verryk. Ons was bevoorreg om mense te ontmoet en dinge te sien en te beleef wat die meeste ander mense nooit sal kan nie. Nóg 'n grootse geskenk wat ons hiermee saam ontvang het, is die belewenis van mense se goedheid en vrygewigheid. Niemand in die groep was finansieel instaat om sélf daarvoor te kon betaal nie, maar almal het vertel hoedat ander se harte, hande en beursies vir hulle oopgegaan het. Mense het gegee sonder om enigiets terug te vra. Ons het dit beleef as wonderwerke en genade. Die skuld waarmee ons na die toer sit kan afgewerk word, maar hoe om vir hulle dankie te sę weet ek nog nie.
Soms wens ek dat ek in 'n posisie was dat ek vir mense baie geld of groot dinge as geskenke kon gee. Dis vir my lékker om te kan gee, maar tot dan sal ek uit dankbaarheid gee wat ek kan: liefde, vriendelikheid, 'n sagte hart en nog dinge wat God reeds vir my gegee het. God oorlaai ons met meer as geskenke. Hy trek niemand voor nie en skenk heerlikheid, eer en vrede (Rom. 2:10-11). Hoeveel meer God ons nóg kan en sal skenk, sal ons nooit weet nie (Rom. 8:32). En wat God skenk, sal Hy nooit terugtrek nie (Rom. 11:29).
Wat ek dié Kersfees vir jou kán gee, is die gebed in Judas 2: "Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word!" Mag jy (en julle) God se teenwoordigheid ervaar en blý beleef. Geseënde Kersfees!