God dra ons deur die donker van depressie
Die donker, het Koos du Plessis geskryf, kom van buite en syfer deur die ruite. Soms gebeur dit dat die druppels duisternis in die afvoerpyp afloop, maar té dikwels gebeur dit nie. Wanneer dít nie gebeur nie, versmelt álles wat eers was uiteindelik tot blote skadu's teen die muur. Al gooi jy dan ook hoeveel kole op die vuur, raak jou "breinvitamines" een of ander tyd uitgeput en hoor jy hoe die dokter jou diagnoseer: depressie. As hy maar "hartaanval" gesê het, sou jy dit nog kon hanteer en die mense rondom jou dit verstaan. Maar hoe verduidelik jy aan húlle, wat van dié hel gespaar deur die lewe gaan, wat "breinaanval" beteken? Dat jy 'n mediese toestand opgedoen het wat jou liggaam, denke, gevoelens en gemoed dónker kom verf het? En dat jy nié maar net terneergedruk of "af" is en jouself nie maar net kan regruk nie?
Ongeveer 25% van alle vroue en 12% van alle mans sal een of ander tyd ernstige depressie opdoen. Dié siekte neem ook al hoe meer toe onder jongmense en kinders. In die Bybel lees ons van baie van God se mense wat deur 'n gevoel van hopeloosheid, mislukking, onmag, negatiewe denke en gevoelens of angs - alles kenmerkend van depressie - oorval is (bv Ps. 40:1-4; 42; 43; Jer. 11:19; Jon. 4:3, 8 en selfs Matt. 26:37-38). Ons lees ook, byvoorbeeld in Psalm 40, dat daar gelowiges was wat beleef het dat hulle uit "die put van die dood", uit "die slymerige modder" uitgetrek is en weer "op 'n rots", "op vaste grond" kon staan en die weg die toekoms in kon vind. Nie ál God se kinders kan egter hiervan getuig nie. Soms word dit 'n siekte tot die dood.
Dis vir almal - nie net mense met depressie nie - belangrik om te onthou dat God ons vashou, veral wanneer ons nie daarin slaag om aan Hom vas te hou nie (Joh. 10:28). In God se hande is ons veilig (Ps. 23:4). God dra ons deur die donker van depressie. Al voel dit nie so nie. God verlaat ons nie iewers langs die pad nie, al is dit ook 'n lewenslange kronkelpad. Soms bied die gate wat deur die loop van die jare in die donker gemaak is genoeg lig sodat mense hul weg kan vind deur die labirint van die lewe. Ander kere is 'n goeie oor, advies of berading deel van die medisyne. Vir baie is medikasie nodig om 'n neuro-chemiese balans in die brein te bewerkstellig of 'n hormonale versteuring te herstel. In élke geval is die siekte én die pad daarmee saam uniek.
Mag jy beleef dat God ook by jou is wanneer dit voel of die donkerte jou gaan versmoor. Mag jou vuurtjie ook in sulke tye brand en jou kersie sy lig gee. En mag jy, saam met HA Fagan, uitroep: "Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan - dit is 'n rots waarop my huisie staan" (in: Ek het 'n huisie by die see).