Leier | Wat doen ek vir my leiers?

24 views
Skip to first unread message

ekerk online

unread,
Dec 29, 2007, 4:44:08 PM12/29/07
to Argiewe

Ons het nou baie gepraat oor wat leiers doen en hoe hulle teenoor hulle volgelinge moet optree, maar het ek enige verpligtinge teenoor my leier? Is al wat van my verwag word om hom slaafs na te volg? Leierskap is nie maklik nie – luister net vir Moses: Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring ... (Num 11:11 – 12). Daar is heelwat dinge wat ons vir ons leiers kan/moet doen.

  1. Bid vir hulle. Hierdie is voor die handliggend, maar doen ons dit ooit? Almal van ons het gebed nodig – leiers waarskynlik nog meer. Leiers het baie van God se wysheid nodig.
  2. Gee om vir hulle. Soms word ons deur ons leiers geïntimideer; soms wil ons net hoor wat hy/sy van my werk dink. Leiers, soos ons, is gewone mense met gewone lewens en uitdagings. Hoe kan ek hulle bemoedig? Vra vir hulle wat jy vir hulle kan doen.
  3. Hou die kroon oor hulle koppe. Leiers sal net soos ek en jy foute maak; leiers het net soos ek en jy sekere swakpunte. Moenie hulle ondermyn nie, maar soek eerder maniere waarop jy hulle kan ondersteun.
  4. Trek grense. Jou leiers weet nie altyd wanneer jy jou perke bereik het nie. Sê vir hulle. Hulle moet presies weet wat jy kan en wat jy nie kan doen nie. Goeie leiers erken mense se perke en respekteer dit.
  5. Vertel hulle wat jy nodig het. Leiers kan nie ons gedagtes lees nie. Moenie wag vir hulle om uit te vind wat jy nodig het nie – sê vir hulle. Vra vrae as jy inligting nodig het; vra hulpbronne as jy dit nodig het. Vertel hulle van jou uitdagings.
  6. Wees koning van jou kasteel. Neem verantwoordelikheid vir dit wat jou leiers aan jou toevertrou het. Wees trots op dit wat jy doen. Ontwikkel ʼn visie vir die gedeelte waarvoor jy verantwoordelik is. [Hierdie moet natuurlik binne die breë visie van die leiers inpas.]
  7. Neem inisiatief. As jy sien daar is iets wat gedoen moet word, doen dit. [Daar is ʼn ou spreekwoord dat dit makliker is om na die tyd verskoning te vra as toestemming voor die tyd.]  Sit jou idees op die tafel.
  8. Doen jou huiswerk. As jy ʼn voorstel aan jou leiers maak, dink aan die vrae wat hulle gaan vra. Jy moet dadelik dit wat hulle wil weet, kan antwoord.
  9. Eet en slaap jou roeping. Ontwikkel ʼn passie vir dit wat God van jou verwag. Jy moet toelaat dat jou gehoorsaamheid aan God jou motiveer om nog beter te doen. Jy kan met jou entoesiasme selfs jou leiers aansteek – net soos hulle entoesiasme jou aanvuur om nog beter te doen.
  10. Verskil. As jou leiers jou mening vra, gee dit eerlik en openlik – al verskil dit van hulle s'n. As almal net saamstem, het ons ʼn een-man-vertoning. Soek altyd God se wysheid vooraf – en verskil van jou leiers as jy dink hulle is verkeerd.

Die dae van die een man op die wit perd wat alles doen, is verby. Leiers soek soveel as moontlik verskillende insette. Alleenlik dan kan hulle goeie besluite neem.

 


Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages