Dalk ken jy die uitdrukking dat jy die slegte dinge wat vriende jou aandoen in sand moet skryf, maar dat jy die goeie dinge wat hulle vir jou doen op klip moet graveer. Wyse woorde! Wind waai sand maklik deurmekaar, maar wind kan nie veel met klippe regkry nie. Oppas dat jy nie die dingetjies wat mense naby aan jou soms aan jou doen teen hulle hou nie. Dan verloor jy hulle. Wees die minste. Doen wat die Bybel sê: Vergeef. Stap eerste terug. Steek 'n hand van omgee uit. Begin eerste oor.
As jy jou vriende verloor, dan het jy te veel verloor. Die skade is onberekenbaar. Moenie dat dit gebeur nie. 'n Goeie vriend is baie meer werd as goud. Elke vriend is 'n gawe van die Here aan jou om jou lewe ryker en voller te maak. Moenie jou vriende verwaarloos nie. Bid gereeld vir hulle. Kuier saam met hulle. Laat hulle besef hulle is spesiaal en kosbaar in jou lewe. Beskerm hulle goeie naam. Luister na hulle goeie raad. Dra hulle op die hande as hulle die slag struikel of val. Wees van jou kant af 'n vriend duisend.