Nou die dag vertel iemand my hoedat 'n inwoner van 'n township hom die pad na sy huisie toe verduidelik het. Die pad was ingewikkeld. Toe vra die man of daar nie 'n baken is wat hom kan help om te weet hy is op die regte pad nie. "Ja, sê die inwoner, " as jy links draai by die laaste afdraai en jy ry 'n 100 meter; kyk dan in jou truspieël. As jy 'n stopteken sien, dan is jy op die regte pad." Hy was dood ernstig. Wat 'n verrassende kyk na dinge … en ook na die regte pad. Soms moet jy regtig eers terugkyk as jy wil weet of die pad voor jou die regte een is.
Nou ja, 2007 se uurglas loop vinnig leeg. Watter regte paaie sien jy as jy terugkyk oor die afgelope jaar? Wat staan uit as die duidelikste bakens van die Here se goedheid en guns? Watter twee geestelike lesse wat jy vanjaar geleer het gaan jou padwysers wees vir die nuwe roete van 2008? Watter twee mense het as uitstaande rolmodelle vir jou gedien? Wie se koersaanduidings gaan jy vorentoe volg? Watter wysheid uit God se Woord gaan jou vorentoe vat?