Pierre du Plessis vertel ons van Brood & Wyn by 3rdplace
Ons sit op die vloer van 'n leë winkel. Orals brand kerse wat weerkaats in die sement vloer. Teen die dak flikker beelde van kruise, bloed wat deur are pomp en mense. Daar is groot ordentlike brode uitgepak en bottel op bottel wyn oopgemaak.
Dis ons idee van nagmaal.
Ons as 3rdplace het bymekaargekom die donderdagaand voor Goeie Vrydag om saam nagmaal te hou. So ruk terug is daar besluit om nagmaal vir ons self uit te pluis en so bietjie anders (of bietjie antiek?) aan te pak. Ons het begin wonder wat dit nou eintlik beteken vir ons as Christene in hierdie tyd. Ons het gaan krap in die verlede en gesoek in ons harte. Wat daar uitgekom het was 'n nuwe ervaring vir elkeen.
Die een het die ander bedien. Brood is vir mekaar gebreek (sommer met dik plaasbotter opgesmeer). Die wyn is geskink vir mekaar ('n regte wynglas vol!). Niemand het geskink vir homself nie, ons is mos vry mense.
Ons het gepraat oor wat die vier glase wyn beteken vir die jode wat hulle by die pasgamaal drink:
Ek sal jou uitlei,
Ek sal jou red,
Ek sal jou verlos,
Ek sal jou God wees,
en ons besef hoeveel meer die wyn sin maak wanneer ons as volgelinge van Jesus dit drink op die aand voor die kruisiging (Eks. 6:6,7).
Ons het gepraat oor brood wat (soos manna in die woestyn) altyd 'n geskenk is uit die hemel. Die brood wat Jesus se liggaam is, geskenk en gebreek vir ons in ons eie woestyne.
Maar die heel belangrikste is dat ons gekuier het, dat ons nuwe mense leer ken het en nuwe stories kon hoor van hoe Jesus steeds mense se lewens verander.
Communion is dalk 'n beter woord. Ek dink dit som ons ervaring van die nagmaal beter op. Dis meer as net die brood en wyn. Dis Jesus wat ons uit die 'woestyn' kom haal het en teruggevat het na God toe en ook (en ons vergeet dit maklik) ons verhoudings met ander kom herstel het.
Jesus, brood, wyn en ander. Dit is al.