Media | Die waarheid in boeke?

6 views
Skip to first unread message

ekerk online

unread,
Dec 12, 2007, 7:23:37 AM12/12/07
to Argiewe

Die waarheid in boeke?

Koerantmense lieg nie sommer vir die lekkerte nie, maar jy kan nie alles glo wat jy in koerante lees nie. Dit weet ons almal. Fanus Rautenbach se destydse verwysing na een oggendkoerant as Die Waarheid was ten minste deels ironies.

Maar hoe kry ons dan 'n greep op die waarheid? Deur baie koerante te lees? Of deur na die SAUK, e-tv, Sky, die BBC, BVN en CNN se nuusuitsendings te kyk?

Nee, tyd daarvoor het ons nie.  Ook seker nie lus nie.

Wat my by boeke bring. Dis hier waar die waarheid getrouer aan die lig kom as in die eersgenoemde media.

So dag ek toe ek die afgelope weke 'n outobiografiese boek deur oud-redakteur Hennie van Deventer, In kamera, met genot gelees. Dit was een van daardie boeke wat bevestig wat jy vermoed het. Hier kom die waarheid oor 'n paar mediahistoriese sake mooi uit die verf.

In Beeld en elders lees ek weer resensies oor twee ander boeke: dié van Jake White oor sy tyd as Springbokafrigter en Andrew Feinstein se onthullings oor die ANC en die berugte wapentransaksie.

In beide dié boeke word, aldus die resensente, allerlei binnewaarhede aan die lig gebring. Van hulle het dalk al deels as berigte in koerante verskyn, maar hier kry ons meer van die volle waarheid as wat ons normaalweg in koerante kry.

Waarom? Ek meen daar is 'n paar belangrike redes: boeke handel gewoonlik oor sake wat al 'n paar jaar in die verlede lê. Die skrywers kan dus bietjie perspektief kry. En hulle het tyd om feite te kontroleer.

Belangriker nog is dat hulle gewoonlik al af- of uitgetree het en dus nie meer so vir hul eie paaltjies hoef te keer nie. Eiebelang en die waarheid is nie vriende nie. Die dokumente, briewe en aantekeninge wat so lank weggebêre is, kan nou maar afgestof word. Met die pensioen veilig, kan die waarheid uit.

As koerant die eerste haastige, gebrekkige weergawe van die geskiedenis is, gee boeke dikwels 'n getrouer weergawe. Maar pasop, skrywers het ook maar hul eie agendas. Ook in boeke kry ons  dus net ten dele die waarheid. En soms is 'n boek juis die skuilplek van veel groter dwalings as wat besige joernaliste ooit kan uitdink.

Johannes Froneman 

      


Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages