Goeie Nuus | 'n Geseende Lewe

12 views
Skip to first unread message

ekerk online

unread,
Dec 18, 2007, 6:33:24 AM12/18/07
to Argiewe



Liewe ekerk vriende

Dis goeie nuus tyd. Welkom!

Ons nuwe webblad is gereed vir toetsbestuur. Interessante onderhoude  met mense soos Victor Matfield en Erwin McManus is daar beskikbaar. So ook gespreksforums en wie weet wat nog. Op ons webblad by E-Wêreldgebeure praat Philip Scheepers vanuit Australië vanaf eerskomende Woensdag vir die volgende drie weke oor daai fliek: "The Golden Compass." Ook is daar pas 'n nuwe maandelikse nuusbrief vir die manne deur Dries Lombaard. As jy wil inskryf, laat weet sommer vir Dries by dr...@ekerk.co.za

O ja, in die dagblad Beeld die afgelope Vrydag was daar 'n mooi berig oor ekerk se noodprojekte, getiteld: "E-Kerk vat grond met hulp vir arm kinders ." Dankie vir elke donateur wat dit help moontlik maak, ook vir die twee anonieme donateurs wat tans die maandelikse salaris van twee huismoeders by kinderhuise betaal. Ons prys die Heer vir julle. Elke sent wat ons vir Nood-E ontvang word met groot wysheid deur dr Coen Slabber, ons gemeentebestuurder, op die regte plekke (Salvokop, Tembisa, Louis Botha Kinderhuis en elders) aangewend.

Nou's dit goeie nuus tyd, saam met Coen Slabber se geskiedenisbrokkie:

"'n Geseënde lewe"

saam met

"'n Geseënde Kersfees"

Ek wonder soms oor die snaakste vrae, soos hoekom sê mense so graag vir mekaar: "Geseënde Kersfees?" Wat beteken dit? Want ek wil nie maar net dinge vir ander sê wat nie in my eie hart gebore is nie. Daar's te veel sulke soort woorde in omloop.

Is 25 Desember maar net sinoniem met "Geseënde Kersfees?" soos wat 1 Januarie sinoniem is met: "Voorspoedige Nuwe Jaar?" Is ek uit my plek as ek die woorde "Geseënde Kersfees" nie sommer onnadenkend vir enigeen wil sê nie? Want vir my gaan dit oor Christus wie se geboorte ek gedurende Kersfeestyd herdenk, nie oor "goeie wense" wat ek ander mense toewens sodat ons almal 'n lekker "Kersfees-gevoel" kan hê nie.

"Geseënde Kersfees" - klink my daar's net een rede hoekom ek dit wil sê - omdat dit vir my die viering van Jesus se geboortedag is. Nee, nie sy geboortedag self nie; die kerk het maar net besluit om dit op 25 Desember amptelik te vier. Daarom is dit 'n spesiale dag waarop ek sing en bly is oor die koms van die ware Lig wat die donkerte kom wen het. As ek dus vanjaar vir iemand sê: "Geseënde Kersfees", dan dink ek eers wat ek sê. Dan nooi ek die hoorder uit om saam met my Jesus se wendag te vier, daardie dag toe sy voete hier tussen ons grond geraak het om alles vir altyd te verander! Met "Geseënde Kersfees" bid ek vir elke aanhoorder van hierdie twee woorde. Ek bid dat ons twee saam sal feesvier oor Jesus. En dat Kersfees sal oorvloei na 26 Desember en elke ander dag.

Ek bid

Heer, U koms het alles op aarde verander

Nou wen lig oor donker

Nou triomfeer lewe oor dood

Nou staan die graf se deur wawyd oop

Die dood het verloor

Dankie dat ek mag deel in u oorwinning

Dankie dat ek hieroor kan feesvier en juig

Ek loof u Naam

Amen

Hierdie week in die Geskiedenis: 17 - 23 Desember

18 Desember 1707: Geboortedag van Charles Wesley, saam met sy broer John die stigter van die Metodisme. Hy was 'n erkende skrywer van liedere. Hierdie tyd van die jaar sing ons dikwels sy: "Hoor die blye eng'lelied."

20 Desember 1552: Katherina van Bora, voormalige non en Martin Luther se vrou vanaf 1525 tot met sy dood in 1546, sterf.

Vrede

As u enige vrae of kommentaar het, kan u direk aan co...@ekerk.co.za skryf.

Ontvang jy hierdie e-pos vanaf 'n vriend? Sou jy graag wou inskryf om dit direk te ontvang? Kliek net op www.ekerk.co.za en teken in by "Nuusbrief registrasie".

Stephan





Reply all
Reply to author
Forward
0 new messages