Psalm 137 is ʼn kort psalm. Ons lees nie wie die skrywer is nie. Wat ons wel weet, is dat die skrywer tydens die ballingskap weggevoer is – hy sit by die riviere van Babel. Wat doen hy? Hy droom, hy huil en hy sing. Natuurlik verbaas dit ons nie dat hy droom en huil nie – hulle sit in ʼn vreemde land tussen vreemde mense met vreemde gewoontes. Hulle droom oor die verlede. Maar hulle kan ook sing, want hulle weet God is aan hulle kant. Eendag sal Babel verwoes word – daarvan is hulle seker
Lees ons hierdie psalm kom daar drie vrae na vore vir elke leier.
1. Waaroor droom jy? Die psalmis sit langs die riviere van Babel en dink terug aan Jerusalem/Sion. Hy droom van sy vaderland; hy sien die stad en die tempel in sy gedagtes. Leiers moet kan droom. Hulle droom van ʼn toekoms waarop God vir hulle ʼn blik gegee het – hulle visie. Waaroor droom jy? Het jy as leier God se visie in jou hart? ʼn Leier droom groot drome, want God se visie is groot.
2. Waaroor huil jy? Die psalmis huil omdat hy in ʼn vreemde land sit. Hy huil omdat sy mense ballinge is. Ons lees dat toe Nehemia berig gekry het oor die toestand van Jerusalem hy ook gehuil het. Ons glo dat om te huil ʼn teken van swakheid is. Dit is nie waar nie. Leiers huil, want hulle is passievol oor sekere dinge. Wat laat jou as leier huil? Wat maak jou vol passie? As daar niks is wat jou laat huil nie, gaan jy nie ander mense aansteek met jou passie nie. Mense sal jou nie volg as hulle sien jy is maar lou oor die visie nie.
3. Waaroor sing jy? Hier sit die psalmis in ballingskap. Hy het niks om oor te sing nie; sy tong kleef aan sy verhemelte vas. Hy kan egter sing van God se seëninge; hy sing as hy dink aan wat die Here alles vir hulle gedoen het. Waaroor sing jy as leier? Wat maak jou bly? Ons konsentreer so op die dinge wat verkeerd is dat ons skoon vergeet daar is baie om oor te sing. Ons is maar traag om fees te vier as dinge goed verloop.
Leierskap is nie iets sonder emosie nie, want leierskap gaan oor mense. Mense wil sien dat hulle leiers wel emosies het; dat hy omgee vir die saak en vir hulle; dat hy passievol is.