Wanneer jy na die wêreld kyk waarin jou kind moet grootword, is dit genoeg om jou yskoud te laat word. Daar is soveel geweld en bitter min liefde. Sedes, norme en waardes bestaan vir baie min mense. Ja, jy voel jou kind word soos 'n skaap vir die wolwe gegooi. Wanneer jou kind nie meer onder jou invloed is nie, het jy net opregte smeking en gebed vir hom oor.
As ouer kan jy wonderlike bemoediging kry uit die verhaal van die Kanaänitiese vrou en haar dogter wat in die mag van die duiwel was. Die ma het opreg by die Here gepleit en aanvanklik geen antwoord gekry nie. Sy het egter aangehou en vasgehou aan die Here en geglo die Here sal haar kind red ... en Hy het!
Op baie plekke in die Bybel gee God die versekering dat Hy wil hê geen mens moet verlore gaan nie. Hy wil hê elke mens, elke kind, moet gered word. Het jy as ouer al met opregtheid, volharding en smeking na God gegaan en gepleit vir jou kind? Indien daar nog geen vrug is nie, hou aan. Bid jou kind terug na God toe.
Dis belangrik dat Pa en Ma saam voor die Here kom en saam hulle kinders aan die Here opdra. Bid vir hulle in hulle bepaalde omstandighede. Bid vir hulle vriende en toe¬komstige lewensmaat. Julle gebede kan die verskil maak.
Skrifgedeelte
Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.
~ Matteus 18:19-20 ~
Gebed
Here, ek kom pleit vir my kind. U sien hoe hy in die modder ploeter en hoe diep ongelukkig hy is. U sien hoe my kind sy lewe weggooi. Gryp in, Here, red my kind. My vertroue is in U alleen.