Kersfees?!
Kersfees is wel … Kersfees. Dis min of meer elke jaar dieselfde regoor die aarde. Dieselfde versierings in winkels, dieselfde soort musiek, geskenke, liggies, kos, sentimentele kaartjies, advertensies, klingels. En, ja, ook dieselfde ou klagtes oor die misbruik van Kersfees. Baie mense wag net vir Kersfees … om geld te maak of om daaroor te kla. Om fees te vier, of om nie te vier nie – dis die in-ding! Moenie soos die res maak nie. Maak jou eie soort fees dié Kersfees. Maak Jesus regtig Koning! Laat Hom die Fees se Hoof en Heer wees wat jy en jou mense vanjaar uitbundig saamvier.
Bring hierdie jaar geskenke vir Christus, nie andersom nie. Laat jou lewe in hierdie dae die mooiste getooide geskenk wees wat getuig hoe wonderlik en belangrik Hy is. Laat jou verhoudings met ander rondom wys hoe kosbaar Christus vir jou is. Sorg dat Hy regtig die inhoud van jou dae in hierdie tyd is. Laat Hy die rede wees – die rede hoekom jy opstaan en gaan slaap. Die rede hoekom jy omgee en aanhou omgee. Die rede hoekom jy ander liefhet. Die rede hoekom jy leef en wil aanhou leef. Vier 'n nuwe fees, 'n lewensfees. Jy het alle rede om dit te doen!
Kersfees?!