Momente uit Markus 20 - Jesus het jou jammer gekry
Markus 5:19: Jesus het vir hom gesê: "Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het."
Die man waarvan in hierdie vers gepraat word, was 'n uur of wat vroeër nog totaal onhanteerbaar. Markus vertel hoe hy tussen die grafte geslaap het, gedurig geloop en skreeu het en homself met klippe stukkend gekap het. Dit alles het verander toe hy met Jesus in aanraking gekom het. Jesus het die onrein geeste uit hom uitgedryf en hom weer 'n normale mens gemaak.
Die heel belangrikste van alles is dat Jesus hom toe ingetrek het by sy eie werk. Hy word na sy eie mense gestuur. Ons kan sê dat hy 'n sendeling word. Dit is belangrik dat ons sal oplet wat hy vir die ander mense moet gaan vertel. Jesus stuur hom met 'n goeie boodskap na die mense. Die treffendste deel van sy boodskap is om vir mense te gaan vertel dat Jesus hom jammer gekry het. Hy moet gaan vertel van 'n goeie God wie se hart vol van liefde vir mense is.
Miskien is dit nodig dat ons in die kerk weer 'n slag sal dink oor die manier waarop ons die mense wat niks met God te doen wil hê nie, hanteer. Skep ons nie dikwels onbewustelik by hulle 'n heeltemal verkeerde idee van God nie? 'n God wat kwaai en ongenaakbaar is of wat hulle wil veroordeel nie? Dit is nie wat Hy van ons verwag nie. Ons word gestuur met 'n wonderlike goeie boodskap: 'n God wat alle mense jammer kry en vir wie dit 'n vreugde is om mense te verlos!