MARCUS RYAN
RESTLESS JOURNEY
Every man's struggle for significance
V ereeniging: Christian Art 2007
Wie is jy? Wie is jy in terme van waarvoor jy leef? Wat is die doel van jou bestaan op aarde, jou diepste passie, jou primêre roeping, jou diepste vrese?
Weet iemand wie jy is? Weet jy? As jy nie antwoorde op dié vrae het nie, sê die skrywer, moet jy nie alleen voel nie. Baie min mans het. Trouens, meeste mans dink nooit eens hieroor nie. Ons gaan eerder deur die lewe en alles wat dit van ons vra sonder om die vrae te stel wat ons in staat kan stel om werklik te begin lewe.
Juis vir hierdie rede beleef talle mans diep binne 'n rusteloosheid, soek hulle na 'n doelgerigte en vervullende lewe, 'n lewe wat van die begin af bedoel was om uitgedruk te word, om geken te word.
Intussen is die ware jy dalk weggesteek en onderdruk deur wat ander mense van jou verwag, of jou eie teleurstellings, of selfs jou suksesse. Ja, baie mans is slagoffer van hulle eie suksesse en kan nie weer daaraan ontsnap om hulleself te word nie!
En jy sal rusteloos bly totdat jy daardie ware self herstel en herontdek.
Ek het dié boek geniet omdat dit nie maklike resepte bied wat aantreklik klink en vir ander werk maar nie vir jou nie. Die lewe is veels te ingewikkeld om dit aan die hand van resepmatige formules te leef! Nee, hier gee die skrywer eerder Skrifgebonde sleutels sodat jy self na die antwoorde kan gaan soek wat diep binne-in jou lê. Eers so gaan jy die mens word wat God bedoel het jy moet wees.
Ek woon uit die aard van my beroep dikwels begrafnisse by en luister met belangstelling na wat mense oor die oorledene sê. Soms gebeur dit dat mense hulle harte oopmaak omdat hulle dié mens geken het, maar in meeste gevalle kry ek die indruk dat dit om blote cliché's gaan wat mooi klink en niks sê. Dan wonder ek: het dié mens geleef? Wat was sy of haar belegging in ander mense se lewens? Tot watter mate het hulle hulself laat ken deur hul eie hart aan ander te openbaar?
Die skrywer is 'n bekende in Amerikaanse kringe wat in kommunikasiekunde gepromoveer het en baie jare se ervaring in die mediawêreld opgedoen het. Uit sy boek is dit duidelik dat hy met talle mense in aanraking was, wyd gelees en baie ervaar het. En jy het die geleentheid om daarin te deel.
Restless Journey is by CUM beskikbaar. Wanneer jy die boek gelees het, skryf iets oor jouself en stuur dit vir ons aan!
<<...>>