Sep 08 2007 06:54:53:703PM
Lees die storie by:
http://jv.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2179682,00.html
Boodskap: Kyk, al hoe meer arm blankes! En hulle eie mense buit hulle
uit. Die Boere Volk darem...
Al hoe meer arm wittes
Sep 08 2007 06:54:53:703PM
Ry van Danville in Gauteng se Tshwane-distrik af deur die Daspoort-
tonnel na Booysens, Pretoria-Tuine en Daspoort.
Ry van Danville in Gauteng se Tshwane-distrik af deur die Daspoort-
tonnel na Booysens, Pretoria-Tuine en Daspoort.
Hier is die erwe redelik groot, maar kyk anderkant die heinings en jy
sien dalk die Wendyhuisies, krotte, woonwaens en selfs tente ingeprop
agter die hoofhuis.
En dis maar net enkele voorbeelde van hoe die gesig van armoede in
Suid-Afrika verander het. Armoede raak weliswaar alle Suid-Afrikaners,
maar alle armes is nie meer swart nie en alle rykes nie meer wit nie.
Trouens, ’n nuwe armblankevraagstuk, met krotbuurte soos dié van ná
die Anglo-Boereoorlog en die Groot Depressie toe mense van die
platteland en plase na die stede gestroom het, is aan die ontwikkel.
Wit bedelaars op straat of by verkeersligte is lankal nie meer ’n
vreemde gesig nie en volgens die jongste amptelike syfers van
Statistieke Suid-Afrika is daar tans 990 000 werklose wit mense.
Hiervan is 380 000 mans en 610 000 vroue.
Sowat 7 000 wit gesinne is onder die honderdduisende Suid-Afrikaners
wat in ’n plakkershut, informele struktuur, tent of woonwa woon. Nog
11 000 tot 12 000 wit gesinne deel kamers en woonruimte. Drie jaar
gelede het prof. Lawrence Schlemmer al daarop gewys dat 430 000 van
die 4,5 miljoen wit mense in die land te arm is om in die histories
wit gebiede te woon.
Volgens dr. Dawie Theron, uitvoerende sekretaris van Solidariteit se
Helpende Hand-fonds, neem die behuisingsituasie nou kritieke afmetings
aan. “En die misbruik van spesifiek die Afrikaanssprekende wit mense
deur mede-Afrikaners stuit ’n mens teen die bors.”
Hoewel dit onregverdig is om alle skuilings en huiseienaars oor
dieselfde kam te skeer, is dié haweloses se nood vir menige opportunis
net nog ’n manier om vinnig geld te maak, sê hy.
Weens die toename in wit haweloses het die aantal skuilings die
afgelope vier jaar beduidend toegeneem, en nie almal is ewe geskik as
leefruimte nie. In Daspoort, Pretoria, woon meer as twintig wit mense
saam op een erf.
Die meeste is afhanklik van ’n ongeskiktheidstoelae van R870 per
maand, van die ander is bejaardes wat leef van hul maandelikse
staatspensioen van R820. Hiervan betaal hulle maandeliks R590 vir
blyplek en een ete per dag.
Op my besoek hier die afgelope winter het ’n bejaarde vrou in haar
Wendyhuisie onder ’n duvet gesit en koud kry. Agter haar teen die
houtmuur was ’n getekende plakkaat van die Suid-Afrikaanse country-
sanger Ken Mullan.
Om die hoek het ’n man in die son aan fietse gekarring wat hy herstel
vir ’n bykomende inkomste.
Noord van Pretoria lewe 75 mense op ’n hoewe. Hier betaal ’n
afgetredene R350 per maand, terwyl die res vir hul kos en blyplek moet
werk.
’n Kerk het onlangs ’n kombuis en toilette hier kom inrig. Kragkabels
na die huisies, vervalle geboutjies en Wendyhuise op die perseel is
onbeskermend op die grond aangelê waar kaalvoet kinders, hoenders,
varke en bokke rondloop.
In kontras hiermee is die skuiling etlike kilometers daarvandaan, met
behoorlike strukture, ’n skoon en netjiese toevlugsoord waar die
haweloses onder meer bemagtig word en nuwe vaardighede aanleer.
Dis slegs vir mans en elkeen het ’n dagtaak. Daar is inwoners wat hier
opgelei is om die kos te berei in ’n goed toegeruste boskombuis. In
een van die geboue sit ’n span elke dag plastiekblomme aanmekaar vir
’n vervaardiger van plastiekruikers vir grafte.
Hulle betaal maandeliks ’n deel van hul inkomste aan die skuiling. ’n
“Kampkommandant” aangestel wat dissipline moet handhaaf en onderlinge
struwelinge moet oplos.
Net agter Danville in die weste van Pretoria is die kultuurhistoriese
Wesfort, wat in 1898 as die “Leprosen-gesticht” opgerig is. Sedert
Wesfort se deure in 1997 amptelik gesluit is, was dit ’n spookdorp
totdat haweloses van alle rasse en ouderdomme daar ingetrek het.
Die laaste paar maande het meer as 1 250 gesinne – sommige van hulle
met nege kinders – na Wesfort gestroom. Van die mense daar het selfs
van die enkelbadkamers in die ou hospitaalgeboue beset. Planke wat op
die baddens geplaas is, is hul beddens.
Daar is tans meer as 300 kinders, van wie sommige in Danville op skool
is.
In die buurt met die ironiese naam Pretoria-Tuine staan ’n huis as
voorbeeld van hoe uitgelewer hawelose mense aan “grondbaronne” kan
wees.
Die huis bestaan uit sewe slaap-kamers wat vir R1 800 per maand per
kamer aan gesinne verhuur word – water en ligte ingesluit. Dié
onderverhuring bring die eienaar sowat R12 600 per maand in die sak.
Agter die huis is die motorhuis in woonplekke omgeskep waar twee
gesinne met vier kinders teen R1 800 per maand elk bly.
Die ou buitetoilette is ook ingerig as kamers. Op dié klein
oppervlakte bly vyf mans en ’n bejaarde vrou. Hulle betaal R450 per
persoon vir die blyplek.
Heel agter op die erf is drie woonstelle – of eerder pondokkies – wat
elk bestaan uit ’n kombuisie, slaapkamer en badkamer wat aaneen is.
Een van hulle is so groot soos ’n standaard-motorhuis.
Die krag word van die hoofhuis herlei en die huurgeld is ook R1 800
per maand.
Langs die pondokkies in die agterplaas is ’n graslapa wat toegemessel
is waar een mens tans bly. Daarin is ’n wasbak, stort en bed en dit
kos ook R1 800 per maand.
Bogenoemde is maar net ’n paar voorbeelde van wat landwyd in Suid-
Afrika aan die gang is.
Daar is geen beheer nie en die mense wat in sulke haglike
omstandighede lewe, is meestal te bang om oor hul lot te kla.
Die kanse is skraal dat die regering sal ingryp soos in die vorige
armblanke-vraagstuk.
Gemeenskappe sal daarom self betrokke moet raak by hulpverlening aan
en die opheffing van hul land-genote. Ons kan nie anderpad kyk en
reken dit is nie “ons probleem” nie.
Die artikel is ’n ingrypend verkorte weergawe van die oorspronklike,
wat gevolg het op ’n ondersoek deur De Wet Potgieter, nuusredakteur in
die vakbond Solidariteit se kommunikasie-afdeling.