DieUniversiteit benoem op voordrag van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk vir dominee G.M. Pellisier in die pos Godsdienswetenskap wat deur die bedanking van professor Macmillan vakant gelaat is. Dit word die begin van 'n ontwikkeling van twee feitlik selfstandige afdelings binne die Fakulteit Teologie. Die toetrede van H.P. Wolmarans as vierde dosent vanwe die Nederduitsch Hervormde Kerk bring nuwe teologiese aksente. Die verhouding tussen die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Universiteit kry beslag in 'n skriftelike kontrak. In 1937 word dit gevolg deur 'n tweede kontrak waarin die ruimte geskep word vir die bestaan van twee fakulteitsafdelings. Vanaf 1938 funksioneer die twee afdelings naas mekaar met gelykluidende kontrakte. Hierdie kroniek volg dan verder die gang van Afdeling A, die afdeling beman deur ampsdraers van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die benoeming as lektore van A. van Selms in 1938 en C.H. Rautenbach in 1939 verhoog die akademiese kwaliteit van die afdeling verder.
Die Raad besluit om so gou moontlik 'n aanstelling in Vergelykende Godsdienswetensakp en Wysbegeerte van die Godsdiens te maak in oorleg met die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk en versoek die sinode om drie persone aan te beveel.
Op die 44ste Algemene Kerkvergadering is as voorsitter verkies dominee L.E. Brandt en as vise-voorsitter dominee J.J. Prinsloo Jsn, as skriba dominee A.J. Barger en as vise-skriba dominee T.F.J. Dreyer. Die vergadering het kennis geneem dat 'n skriftelike ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria in onderhandeling is. Besluit is dat die kerklike eksamen opgehef word en dat die professore sal deelneem aan die proponentseksamen wat sal bestaan uit Dogmatiek, Christelike Etiek, Praktiese uitleg van die Heilige Skrif, Bybelgeskiedenis, Praktiese Godgeleerdheid en Kerkreg. Die status van professore was ter sprake en is na 'n kommissie verwys vir advies. Die kommissie het voorgestel dat professore die status van predikant sal h en dat klagte oor hulle leer en lewe by die Kuratorium ingedien moet word vir voorlopige ondersoek en verwysing na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die voorstel is aanvaar na lang bespreking. Daar is ook lang bespreking gevoer oor 'n rapport van die professore oor spiritisme wat nie byval gevind het nie. Hierdie vergadering het dominees Brandt, Prinsloo en Oosthuizen benoem om namens die kerk met die Universiteit te onderhandel en 'n ooreenkoms te beklink. Op die Kuratorium is verkies doktor B. de Loor, dominees L.E. Brandt, A.J.G. Oosthuizen, doktor H.C.M. Fourie, dominee J.J. Prinsloo Jsn, ouderling N.J. Campher en dominee S. Vermooten [van nou af net sewe lede].
Die Fakulteit vergader. Teenwoordig was naas Engelbrecht, Greyvenstein en Gemser ook H.G. Viljoen en G. Cronje, asook dominee W. Nicol, moderator van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk. Na 'n uiteensetting van dominee Nicol is besluit om by die Senaat en Raad aan te beveel dat professor B.B. Keet van Stellenbosch benoem word in die vakante leerstoel Godsdienswetenskap. Die Senaat het die benoeming goedgekeur op 06 Junie.
Die Raad besluit na aanleiding van 'n brief van die Sinodale Kommissie van die Verenigde Kerk om dominee G.M. Pellisier van Carolina aan te stel as professor in Wysbegeerte van die Godsdiens en Vergelykende Godsdienswetenskap. [Wat tussen 05 Junie en 21 Junie gebeur het, kan nie uit die stukke opgemaak word nie. Die brief van die Sinodale Kommissie was gedateer 23 Mei 1934, en dit maak die besluit van die Fakulteit op 05 Junie met doktor Nicol aanwesig, baie problematies.]
Die skriba van die Algemene Kerkvergadering skryf aan die voorsitter en lede van die Raad van die Universiteit van Pretoria en spreek die ingenomenheid van die Kerk uit met die handhawing van die bestaande leerstoel in Sosiologie en die aanstelling van doktor G. Cronje in die leerstoel. Hy het afgesluit met die woorde:
Die jongste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk het dan ook reeds die wenslikheid uitgespreek dat ons Teologiese studente een of meer kursusse in Sosiologie by Dr Cronje moet volg.
Die Kuratorium vergader. Dominee Oosthuizen is weer as voorsitter gekies en na staking van stemme tussen dominee Brand en doktor De Loor is dominee Brandt met die lot as skriba aangewys. 'n Lening van 50 is toegestaan aan A. Brandt vir 'n jaar studie in Holland. Die vergadering het ook gehandel oor die vakature wat in die Fakulteit Teologie ontstaan het na die bedanking van dominee MacMillan. Berig is dat dominee G.M. Pellisier deur die Universiteit aangestel is op aanbeveling van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk maar dat hy eers in 1935 met lesings sal begin. Die Kuratorium het na lang bespreking op voorstel van dominee Prinsloo en doktor Fourie besluit om 'n afvaardiging te stuur na die voorsitter van die senaat om voor te stel dat doktor H.P. Wolmarans, wat reeds tydens MacMillan se verlof die lesings waargeneem het, intussen die lesings moet waarneem. In reaksie op 'n bewering van dominee H. Ziervogel van Zeerust op 'n konferensie van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk oor onderwys, as sou die studente van die Hervormde Kerk aangehits is en weier om onder dosering van professor Pellisier te sit, het die voorsitter en skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in Die Volkstem van 17 September 1936 gestel dat die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk bepaal dat hoogleraars wat studente van die kerk oplei, aan 'n erkende Universiteit gepromoveer moet wees, en dat dominee Pellisier nie 'n doktorsgraad het nie. Daar was 'n aansienlike skrywery in Die Volkstem oor hierdie saak. Pellisier het in 1935 net een student gehad.
Die Fakulteit verander die naam van die Departement na Vergelykende Godsdienswetenskap en Wysbegeerte van die Godsdiens. Die Fakulteit het ook sterk kritiek uitgespreek op die Roos-rapport wat misleidende en foutiewe bewerings bevat het.
Aan die Universiteit van Pretoria het intussen 'n voortslepende 'rektorskwessie' sy loop gehad. Professor A.E. du Toit, wat in 1927 rektor geword het en die Afrikaanswording van die TUK sowel as die universiteitswording suksesvol bestuur het, het op 28 Mei 1934 as rektor bedank en teruggekeer na die Wiskunde-leerstoel. Dit het gevolg op 'n mosie van die dekane in die Senaat wat op 02 Mei aanvaar is en wat gelui het:
Dat dit teen die belange van die Universiteit sou wees om die dienstyd van professor AE du Toit as rektor te verleng, dat intussen 'n voorsitter van Senaat aangestel sou word en dat 'n nuwe rektor in oorleg tussen Raad en Senaat aangestel sou word.
Die dekaan van die Fakulteit Teologie was een van die sewe dekane wat die mosie ingedien het en intens betrokke was by die verskille rondom de aanstelling van 'n volgende rektor. Op een of ander wyse het die toetrede van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk tot die Fakulteit Teologie hierby 'n rol gespeel. Dit is wat beweer is deur ondersteuners van professor Du Toit, maar die dekane het twee keer uitdruklik verklaar dat kerklike oorwegings geen rol speel in hulle standpunt nie. Byna 'n jaar lank kon die Raad en die Senaat mekaar nie vind oor 'n geskikte persoon vir die rektorskap nie. Name wat deur die Raad genoem is, was professor F. Postma van Potchefstroom, dominee W. Nicol van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk, professor T.J. Haarhoff van Wits, doktor S.P.E. Boshoff, en professor R.W. Wilcocks van Stellenbosch. Later was professor S.P.E. Boshoff, doktor E.G. Jansen en professor H.G. Viljoen die kandidate. Die Senaat het aanvanklik saam met die Raad gestem in die voorkeur vir professor Postma, maar die Raad het 'om sekere redes' besluit om hom tog nie te benoem nie. Later het die Raad en Senaat ooreengestem oor professor H.G. Viljoen, die dekaan van Lettere en Wysbegeerte wat as voorsitter van die Senaat opgetree het van Junie 1934 af. Ook die studentekorps het sy kandidatuur gesteun, soos blyk uit 'n skrywe van die voorsitter van die Studenteraad, Andries Nolte, op 26 Maart 1935. Professor Viljoen het hom egter die onguns van lede van sy kerk op die hals gehaal soos blyk uit die volgende brief, onderteken deur D. Nel, voorsitter van die Afrikaanse Nasionale Konvokasie Bond en gedateer 20 Maart 1935:
Soos u seker al verneem het, het die Raad van die Universiteit van Pretoria die volgende drie persone aanbeveel uit wie 'n rektor vir die Universiteit van Pretoria gekies moet word, nl Adv EG Jansen, Professor SPE Boshoff en Professor HG Viljoen. Dit is geen geheim meer dat die Hervormde Kerk 'n openlike kerkistiese stryd van die saak gemaak het nie en dat Professor HG Viljoen gemene saak met die Hervormde Kerk en daarby met die vroere vyande van die Afrikanersaak gemaak het nie. Ons wil alles in ons vermo doen om 'n kerkistiese stryd op die Universiteit te voorkom, daarom voel ons ons verplig om 'n beroep op u en ander predikante van ons Ned Herv of Geref Kerk te doen om sonder verwyl die nodige stappe te neem om die Raad van die Universiteit te versoek om nie Professor Viljoen aan te stel nie, daar dit uiters onwenslik is om 'n persoon aan te stel wat openlik kant met die Hervormde Kerk gekies het aangesien negentig persent van die studente van die Universiteit aan die Ned Herv of Geref Kerk behoort. Dit is dus in belang van ons Kerk en ons Afrikanersaak dat of Adv EG Jansen of Professor Boshoff aangestel sal word. Ek vertrou dus dat u dadelik die nodige stappe in die saak sal neem.
Die Senaat het in 'n buitengewone vergadering op 27 Maart 1935 kennis geneem van hierdie skrywe maar nogtans besluit om professor Viljoen aan te beveel as die geskikste persoon. Die Volkstem het in 'n hoofartikel op 13 April 1935 die hoop uitgespreek dat die Raad die keuse van die Senaat sal onderskryf en onder andere die volgende oor professor Viljoen ges:
Die afgelope ses maande het getoon dat die Universiteit van Pretoria sy werk kan voortsit en aan sy roeping getrou kan bly sonder 'n spot en spektakel te wees vir die publiek. Die eer hiervoor kom grotendeels toe aan die gesonde invloed wat van die Senaatsvoorsitter uitgegaan het en die samewerking wat hy in staat was om te verkry 'n prestasie wat des te hor is omdat professor Viljoen bekend is as iemand wat vierkantig staan op die stuk van Afrikaanse belange en andersdenkendes met ope visier ontmoet.
3a8082e126